top of page
Buffeljagsrivier school  badge.png
Gr1.jpg

Graad 1

 

Opvoeder : Me. Jonandi Steyn

Wenke vir Ouers van Skoolbeginnertjies

 

Die nuwe skooljaar begin vroeg in Januarie. Baie ouers wie se kleingoed dan vir die eerste keer hul skoolskoene gaan aantrek, is net so senuweeagtig oor hierdie skooljaar soos die outjie wat nou vir die eerste keer op die skoolbanke gaan sit. Hierdie wenke kom van ‘n grondslagfase onderwyseres wat al menige eerste skooldag meegemaak het.

Met die aanvang van elke nuwe skooljaar, raak ‘n mens telkens bewus van ‘n paar slaggate waarin ouers kan beland. Dit gebeur gewoonlik omdat hulle nie bewus is van moontlike probleme nie. Ma se skooljare lê immers reeds ‘n dekade of langer terug in die verlede. Die volgende wenke behoort die eerste kwartaal van die eerste skooljaar vir leerder, ma en onderwyseres te vergemaklik. Van hierdie drie is die leerder natuurlik die belangrikste. Dit is hy/sy wat die aanpassing by ‘n nuwe omgewing moet maak en ervaar.

OM DIE SENUWEES BIETJIE TE STIL:

Die aand voor die tyd moet als reg wees. Pak saam met u kind sy/haar tassie in en sit die skoolklere uit.

Indien u kan, bring self u kind die eerste dag skool toe, al was hy/sy in Graad R by dieselfde skool.  Dit is nogsteeds vreemd en nuut.  Moenie vergeet om 'n foto te neem nie.  Dit is 'n mylpaal vir kind en ouer.

As u kind met die bus ry, sorg dat hy/sy dit weet.  As mamma/pappa of iemand anders hom/haar kom haal, lig u kind daaroor in. (Moenie reelings verander in die eerste week nie, maak vaste reelings om sodoende onsekerheid vir u kind uit te skakel).

Leerders is gewoonlik greetig om die vakansie al te begin "leer" vir Graad 1, veral as hulle al die nuwe skryfgoedtjies kry.  Leer hulle dan sommer om stelselmatig hulle naam en van te skryf.  Leer hulle ook hulle verjaarsdagdatum aangesien hulle dit gewoonlik nie onthou nie.

Hulle kan ook 'n kontak nommer aanleer, mamma/pappa se nommer.  Hierdie goed is nie verpligtend nie, aangesien ons daaraan gaan werk tydens die eerste kwartaal.

Eerste Skooldag

 

Die onderwyseres ontvang die leerders en wys hulle sitplekkies aan. Sodra al die leerders daar is “begin” die skool amptelik met saalbyeenkoms waar u as ouers ook welkom is. Hou ook die volgende in gedagte: Besorg u kind betyds en rustig by die skool. Laat jou kind rustig word voor jy die klaskamer verlaat. Die onderwyseres gee gewoonlik nie om as Ma ‘n rukkie talm nie. Loop sodra hy/sy tevrede is. Elke kind kry ‘n kaartjie met sy/haar noemnaam daarop. Sommige outjies raak ‘n bietjie verward en reageer nie op hul name nie.

Trane

 

Bêre jou trane tot by die motor. ‘n Mens kan nie verwag dat jou kinddroë oë moet hê as jy self tranerig is nie. ‘n Senuweeagtige ma het gewoonlik ‘n senuweeagtige kind. Die skool is nie so erg soos dit lyk nie!! Inteendeel, daar word met liefde en groot sorg voorbereidings getref vir die ontvangs van jou kind.

Klere

 

Merk alle klere duidelik wat u kind skool toe aantrek. Ons kan geen verantwoordelikheid aanvaar vir verlore klere nie.

Kospakkies

 

Pak elke dag vir u kind ‘n kospakkie in. Maak seker dat daar vir elke pouse ‘n toebroodjie of iets dergliks is. ‘n Kind van sewe kan nie ‘n hele oggend op ‘n leë magie aktief wees en konsentreer nie. Indien vrugtesap ingepak word, maak seker dat die houer se proppie dig sluit. ‘n Nat tas en boekies is ‘n treurige gesig.

Wat benodig u kind?

 

Leerders is alreeds baie senuweeagtig en soms ook tranerig op die eerste dag van Graad 1. As hy/sy dan uitvind dat die maatjies goed het wat nodig is en hy/sy nie het nie, is dit baie onaangenaam.

Items wat met die aanvang van Graad 1 beskikbaar moet wees is asvolg:

 

1. Potloodblikkie

 

2. 2 x dikleêrs 

* Assessering leêr (slegs met koerantpapier oorgetrek. Ons gaan die voorblad self maak en dan weer huistoe stuur om met plastiek oor te trek. Die rede vir die oortrek met koerantpapier, is om eenheid in die klas te skep) 

* ‘n Leêr vir al hulle los papiere. (Trek dit asseblief oor met enige effe kleur papier. Ons gaan weereens ‘n voorblad maak en dan die leêr huistoe stuur om met plastiek oor te trek)

 

3. ‘n A4 hardeband boek. (Hierdie boek is vir huiswerk bladsye asook om met u te kan kommunikeer. Leerders moet ook hulle huiswerk in die boek oefen bv. somme en getalname)

4. 3 x A4 plastiek koeverte 

* Vir los papiere vir huiswerk
*  Los flitswoorde
* Verslag aan einde van die kwartaal

5. Pakkie dik uitdraaikryte.

6. 7 x dik HB driehoek potlode

7. 7 x Pritt

Moet asseblief nie al die potlode en pritt-buisies op een slag inpak skool toe nie. Leerders verloor dit of gee vir die maatjie wat nie het nie. Vervang eerder deur die loop van die jaar.

8. ‘n Skerpmaker wat gepas is om die dik potlode skerp te maak

9. ‘n Sagte uitveër

10. ‘n Gemaklike skêr (neem in ag as u kind links-handig is)

11. ‘n Liniaal

12. ‘n Pakkie dik vetkryte (vir beginners voorgeskryf)

 

13. 'n Dagboek

Merk asseblief alles – maak seker dat u kind weet waar sy naam geskryf staan.

Vul deur die loop van die jaar die skryfbehoeftes aan na gelang van behoefte. 

 

 

Kommunikasie tussen huis en skool

 

Gaan elke dag u kind se skooltas na vir ‘n moontlike omsendbrief. Voltooi die briefie betyds en plaas dit terug in die skooltas. Ouers moet ook op 'n daaglikse basis huiswerkboeke teken. Boodskappe word ook in huiswerkboeke aangeteken.

Geniet hierdie nuwe fase wat u kind nou binnegaan. Ervaar die lewe deur die oë van u kind. Gebruik saam met hom/haar die geleenthede en voorregte wat die skool hom/haar bied. Help bou aan sy/haar selfbeeld en opvoeding.

Kontak gerus u kind se onderwyseres indien daar enige sake is wat u met haar wil bespreek.

Langenhoven het gesê:

 ‘n Mens kan maar jou geleerdheid by die skool agterlaat en net jou opvoeding saamneem. Geniet jou kind.

 

Wat verwag juffrou van u as ouer?

 

Besoek die skool gereeld.  Kyk gerus rond en gesels met u kind se juffrou.

  • Help u kind met deelname aan projekte.  Gee hom/ haar byvoorbeeld die nodige tydskrifte waaruit hy kan knip.

  • Wees saam met hom/haar betrokke by die skool en entoesiasties oor aktiwiteite

  • Hou u kind fyn dop. Let op as hy/sy siek is en praat gereeld met hom/haar, veral as u sien hy/sy lyk ‘n bietjie bek-af.

  • Wees objektief teenoor sy/haar foute, probleme en tekortkominge. Erken u kind se tekorte of agterstand.

  • Wees bereid om saam te werk om ‘n probleem, soos swak sig of lae spiertonus, te verbeter.

  • Wees ingelig oor jou kind se vordering en skoolaktiwiteite.  Vra wanneer iets onduidelik is of as jy bekommerd is.

  • Sorg dat u tuis saam met u kind stories lees en sorg dat hy/sy nie heeltyd voor die TV sit nie.

  • Sorg dat u positiewe druk uitoefen, maar nie sy/haar verwagtings te hoog te stel of die kinders aan te veel bedrywighede laat deelneem nie.

  • Leer u kind die basiese dissipline tuis.

"Jou kind is ‘n kosbare kleinnood wat deur geen aardse skat vervang kan word nie.  Hulle is die seuns en meisies van die lewe se verlange na lewe ….. julle mag hulle jul liefde gee, maar nie jul gedagtes nie, want hulle het hul eie gedagtes." - Kahlil Gibran.

Please reload

bottom of page