top of page
Buffeljagsrivier school  badge.png

Kleuterland & Graad R

Opvoeder : Me. Sané du Toit,  Me.Megan de Jager & Me.Arnel Neethling


 

Wenke vir Ouers van Skoolbeginnertjies

 

Graad R kan gesien word as 'n voorbereidingsjaar vir Graad 1. Graad R is meer gesturktureerd as Kleuterland, maar is steeds nie so formeel soos Graad 1 nie. In Graad R word die kleuter doelgerig gelei om op alle gebiede selfstandig te raak en om sodoende die formele onderwysfase te kan betree.

Die kleuter kry die geleentheid om deur spel te leer en sy/haar wêreld uit te brei asook om met verskillende media te eksperimenteer.  Daar word egter klem gelê op LEER deur SPEL!  

Die nuwe skooljaar begin vroeg in Januarie. Baie ouers wie se kleingoed dan vir die eerste keer hul skoolskoene gaan aantrek is net so senuweeagtig oor hierdie skooljaar soos die outjie wat nou vir die eerste keer op die skoolbanke gaan sit. Hierdie wenke kom van ‘n grondslagfase onderwyseres wat al menige eerste skooldag meegemaak het.

Met die aanvang van elke nuwe skooljaar, raak ‘n mens telkens bewus van ‘n paar slaggate waarin ouers kan beland. Dit gebeur gewoonlik omdat hulle nie bewus is van moontlike probleme nie. Ma se skooljare lê immers reeds ‘n dekade of langer terug in die verlede. Die volgende wenke behoort die eerste kwartaal van die eerste skooljaar vir leerder, ma en onderwyseres te vergemaklik. Van hierdie drie is die leerder natuurlik die belangrikste. Dit is hy/sy wat die aanpassing by ‘n nuwe omgewing moet maak en ervaar.

Eerste Skooldag

 

Die onderwyseres ontvang die kleuters en wys hulle sitplekkies aan asook waar hulle hulle tassies moet pak. Hulle mag dan aan verskillende aktiwiteite deelneem bv. kleispeel, lego- en houtblokke bou. Hou asseblief die volgende in gedagte:

  • Besorg jou kind betyds en rustig by die skool.

  • Laat jou kind rustig word voor jy die klaskamer verlaat.

  • Die onderwyseres gee gewoonlik nie om as Ma ‘n rukkie talm nie.

  • Loop sodra hy/sy tevrede is.

Trane

 

Bêre jou trane tot by die motor. ‘n Mens kan nie verwag dat jou kinddroë oë moet hê as jy self tranerig is nie. ‘n Senuweeagtige ma het gewoonlik ‘n senuweeagtige kind. Die skool is nie so erg soos dit lyk nie!! Inteendeel, daar word met liefde en groot sorg voorbereidings getref vir die ontvangs van jou kind.

Kospakkies

 

Pak elke dag vir jou kind ‘n kospakkie in. Maak seker dat daar vir elke pouse ‘n toebroodjie (verkieslik bruinbrood in kwarte gesny) of 'n vrug, jogurt of iets dergliks is. ‘n Kleuter van sewe kan nie ‘n hele oggend op ‘n leë magie aktief wees en konsentreer nie. Indien vrugtesap ingepak word, maak seker dat die houer se proppie dig sluit. ‘n Nat tas en boekies is ‘n hartseer saak. Vrydae is "lekkertjiedag". Dan mag hulle 'n KLEIN bederfie saambring.  Geen rooi gaskoeldrank, energiedrankies en stokkielekkers nie.

Dit is belangrik dat elkeen 'n voedsame ontbyt eet voordat hulle skool toe kom!

Wat benodig u kind?

 

KLEREDRAG

Kleuters moet gemaklike en ou speelklere aantrek wat ,ag vuil word.  Merk alle klere duidelik.  Onthou om 'n ekstra stel klere in u kind se tas in te pak.

 

SKRYFBEHOEFTES

Dit is noodsaaklik dat elkeen van onderstaande artikels duidelik gemerk word met u kind se naam daarop.(Gebruik plakkers met u kind se naam daarop)  Van hierdie artikels word ingeneem en uitgedeel soos u kind dit benodig.

1 stel Uitdraaikryte (MonAmi), 1 Buise pritt, 1 x 50p "flipfile, 2 x plastiekkoeverte, 1 x potloodsakkie, 1 x 92p hardebandboek (nie oorgetrek nie), 1 x voorskoot.

Kommunikasie tussen huis en skool

 

Gaan elke dag u kind se skooltas na vir ‘n moontlike omsendbrief. Voltooi die briefie betyds en plaas dit terug in die skooltas. Ouers moet ook op 'n daaglikse basis huiswerkboeke teken. Boodskappe word ook in huiswerkboeke aangeteken.

Geniet hierdie nuwe fase wat u kind nou binnegaan. Ervaar die lewe deur die oë van u kind. Gebruik saam met hom/haar die geleenthede en voorregte wat die skool hom/haar bied. Help bou aan sy/haar selfbeeld en opvoeding.

Kontak gerus u kind se onderwyseres indien daar enige sake is wat u met haar wil bespreek.

Langenhoven het gesê:

 ‘n Mens kan maar jou geleerdheid by die skool agterlaat en net jou opvoeding saamneem. Geniet jou kind.

 BELANGRIKE SKOOLREëLS

  • Geen persoonlike speelgoed nie

  • Geld moet in 'n koevert geplaas word, gemerk met u kind se naam voorop en duidelik aandui waarvoor dit is.

  • Wanneer u die skool besoek, parkeer asseblief buite die skoolgronde.

  • Indien u kind 'n koors het, erg hoes of 'n aansteeklike siekte het, moet hulle asseblief tuis gehou word.

  • Stel altyd die skool in kennis indien iemand anders as sy/haar ouers u kind kom afhaal.

  • Kleuters mag nie vir ouers of bussies by die buitehek wag nie. Hulle moet in die Graad R gebied afgehaal word.

  • Elke kleuter moet elke dag 'n gesonde kospakkie skool toe bring.

  • Lekkers, koekies, springmielies, skyfies, ens mag slegs op Vrydae ingepak word.

  • 'n Rugsak wat groot genoeg is om al u kind se besittings in te pak en veilig mee te kan dra, word aanbeveel.

  • Merk asseblief al u kind se besittings duidelik - klere, kosblik, tas, koeldrankbottel, ens..

  • Dit is belangrik dat u kind saans vroeg gaan slaap en genoeg rus kry. 'n Kind wat moeg is, voel ongelukkig en werk nie effktief nie.

  • Ons beveel aan dat u kind elke dag skool toe kom, anders raak hulle gou agter.

SKOOLURE VIR GRAAD R

Aankomstyd : 7:30-08:15

Dagprogram : 08:30 - 13:00

Sporttye in die winter (Dinsdae en Donderdae) : 13:00 - 13:45

Wat verwag juffrou van u as ouer?

 

Besoek die skool gereeld.  Kyk gerus rond en gesels met u kind se juffrou.

  • Help u kind met deelname aan projekte.  Gee hom/ haar byvoorbeeld die nodige tydskrifte waaruit hy kan knip.

  • Wees saam met hom/haar betrokke by die skool en entoesiasties oor aktiwiteite

  • Hou u kind fyn dop. Let op as hy/sy siek is en praat gereeld met hom/haar, veral as u sien hy/sy lyk ‘n bietjie bek-af.

  • Wees objektief teenoor sy/haar foute, probleme en tekortkominge. Erken u kind se tekorte of agterstand.

  • Wees bereid om saam te werk om ‘n probleem, soos swak sig of lae spiertonus, te verbeter.

  • Wees ingelig oor u kind se vordering en skoolaktiwiteite.  Vra wanneer iets onduidelik is of as u bekommerd is.

  • Sorg dat u tuis saam met u kind stories lees en sorg dat hy/sy nie heeltyd voor die TV sit nie.

  • Sorg dat u positiewe druk uitoefen, maar nie sy/haar verwagtings te hoog te stel of die kinders aan te veel bedrywighede laat deelneem nie.

  • Leer u kind die basiese dissipline tuis.

"Jou kind is ‘n kosbare kleinnood wat deur geen aardse skat vervang kan word nie.  Hulle is die seuns en meisies van die lewe se verlange na lewe ….. julle mag hulle jul liefde gee, maar nie jul gedagtes nie, want hulle het hul eie gedagtes." - Kahlil Gibran.

Please reload

bottom of page